Belastingdiens
Optima Eksekuteurs bied ‘n reeks belastingdienste aan. Hierdie diens sluit die volgende in:
- Meld die belastingbetaler se dood by SARS aan;
- Verkry die oorledene se belastinggeskiedenis;
- Verkry die nodige inligting, bereken die inkomstebelasting, kapitaalwinsbelasting en die belasting op annuiteite/lewensprodukte, berei die oorledene se inkomstebelastingopgawe(s) voor tot datum van dood en dien dit in by SARS;
- Registreer die boedel as ‘n aparte belastingbetaler by SARS;
- Verkry die nodige inligting, berei die inkomstebealstingopgawes voor vir die periode vanaf dood tot datum van die Likwidasie en Distribusirerekening en dien dit in by SARS;
- Bereken die boedelbelasting betaalbaar en stel vas wie vir die betaling daarvoor aanspreeklik is;
- Voltooi die Boedelbelastingopgawe en dit in dien by SARS;
- Hanteer alle SARS navrae en oudits;
- Verkry SARS se uitklaring.
Hierdie diens word tans deur verskeie ander boedelpraktisyns gebruik. Ons hanteer alle interaksies met SARS, eFiling en die ander rolspelers.
Boedelbeplanning
Boedelbeplanning is noodsaaklik om te verseker dat jou bates behoue bly vir jou geliefdes en aan hulle oorgedra word in ooreenstemming met jou wense. Dit is ook belangrik om te bepaal watter kostes jou dood gaan meebring en om dit so laag as moontlik te hou.
Die eerste en belangrikste stap van boedelbeplanning is ‘n geldige, uitvoerbare testament. In jou testament het jy die geleentheid om jou bates te bemaak, jou erfgename te benoem, jou eksekuteur te benoem en ‘n voog vir jou minderjarige kinders te benoem. Indien jy te sterwe sou kom sonder ‘n geldige testament, is jy al die boegenoemde voorregte kwyt, aangesien jou boedel dan volgens die Wet op Intestate Erfopvolging verdeel gaan word. Hierdie verdeling sal nie jou wense verteenwoording nie en kan onbedoelde komplikasies inhou.
Die tweede stap is die ontleding van jou boedel om vas te stel watter kostes en belastings jou dood gaan meebring asook om te verseker dat daar genoeg kontant in jou boedel is om die kostes en belastings te betaal. Indien daar ‘n kontanttekort is sal jou eksekuteur verplig wees om sommige of al jou bates te verkoop wat natuurlik nie wenslik is nie.
Optima Eksekuteurs sal jou boedel beplan en ‘n testament opstel om te verseker dat:
- jou wense uitgevoer word;
- jou boedel oor genoeg kontant beskik om die skuld, koste en belastings te betaal;
- jy al die belastingkortings benut;
- jou bates bewaar word vir jou erfgename.
Ons sal jou bystaan met die oprigting van trusts, maatskappye en ander strukture wat nodig is om aan jou boedelbeplanningsbehoeftes te voldoen.
Testamente
Ons sal jou testament opstel en verseker dat dit voldoen aan al die wetlike en die formele vereistes. Ons sal seker maak jou testament is prakties en dat dit uitvoering gee aan jou wense.
Boedelbereddering
Die bereddering van ‘n boedel is ‘n proses wat deur die bepalings van die Boedelwet No 66 van 1965 voorgeskryf word. Jou eksekuteur sal hierdie voorskrifte volg. Die bereddering van ‘n boedel vereis ‘n deeglike kennis van verskeie wette en regulasies, byvoorbeeld die Boedelwet; die Wet op Testamente; die Wet op Intestate Erfopvolging; die Boedelbelastingwet; die Inkomstebelastingwet en die Wet op Beheer van Trustgoed, om maar net ‘n paar te noem. Uit die bogenoemde is dit duidelik dat jy ‘n vaardige en ervare eksekuteur in jou testament moet benoem, verkieslik ‘n professionele boedelpraktisyn.
Die beredderingsproses kan soos volg opgesom word:
- Meld die boedel by die Meester van die Hooggeregshof aan en verkry die eksekuteursbrief;
- Neem die boedelbates in besit;
- Maak voorsiening vir die onderhoud van die oorledene se familie en huishouding;
- Adverteer vir krediteure om hul eise in te dien;
- Open ‘n boedel bankrekening;
- Bepaal die solvensie van die boedel;
- Vorder genoeg kontant om die skuld, kostes en belastings te kan betaal;
- Berei die Likwidasie en Distribusierekening voor en dien dit by die Meester van die Hooggeregshof in;
- Verkry die Meester se goedkeuring vir die rekening;
- Adverteer dat die rekening ter insae lê vir inspeksie;
- Nadat die rekening ter insae gelê het en daar geen beswaar gemaak is nie, betaal die krediteure;
- Betaal die erfgename en dra die bates aan hul oor;
- Betaal die boedelbelasting;
- Verkry die Meester se ontslag.
Optima Eksekuteurs is ervare in die bereddering van bestorwe boedels in alle opsigte, ingesluit die belastings. Sedert die wysiging van die Inkomstebelastingwet op 1 Maart 2016, maak baie ander boedelpraktisyns gebruik van ons spesialis belastingdiens.
Ons het ook ‘n EstateStatus program ontwikkel waarvolgens ‘n oorledene se naasbestaandes die vordering met die beredderingsproses kan monitor. Hierdie funksionaliteit is uniek in die bedryf. Naasbestaandes kan die proses monitor deur as ‘n gebruiker op die webblad te registreer.
Kontak Ons
Tel: 083 236 5736