Die bereddering van ‘n boedel is ‘n proses wat deur die bepalings van die Boedelwet No 66 van 1965 voorgeskryf word. Jou eksekuteur sal hierdie voorskrifte volg. Die bereddering van ‘n boedel vereis ‘n deeglike kennis van verskeie wette en regulasies, byvoorbeeld die Boedelwet; die Wet op Testamente; die Wet op Intestate Erfopvolging; die Boedelbelastingwet; die Inkomstebelastingwet en die Wet op Beheer van Trustgoed, om maar net ‘n paar te noem. Uit die bogenoemde is dit duidelik dat jy ‘n vaardige en ervare eksekuteur in jou testament moet benoem, verkieslik ‘n professionele boedelpraktisyn.

Die beredderingsproses kan soos volg opgesom word:

  • Meld die boedel by die Meester van die Hooggeregshof aan en verkry die eksekuteursbrief;
  • Neem die boedelbates in besit;
  • Maak voorsiening vir die onderhoud van die oorledene se familie en huishouding;
  • Adverteer vir krediteure om hul eise in te dien;
  • Open ‘n boedel bankrekening;
  • Bepaal die solvensie van die boedel;
  • Vorder genoeg kontant om die skuld, kostes en belastings te kan betaal;
  • Berei die Likwidasie en Distribusierekening voor en dien dit by die Meester van die Hooggeregshof in;
  • Verkry die Meester se goedkeuring vir die rekening;
  • Adverteer dat die rekening ter insae lê vir inspeksie;
  • Nadat die rekening ter insae gelê het en daar geen beswaar gemaak is nie, betaal die krediteure;
  • Betaal die erfgename en dra die bates aan hul oor;
  • Betaal die boedelbelasting;
  • Verkry die Meester se ontslag.

Optima Eksekuteurs is ervare in die bereddering van bestorwe boedels in alle opsigte, ingesluit die belastings. Sedert die wysiging van die Inkomstebelastingwet op 1 Maart 2016, maak baie ander boedelpraktisyns gebruik van ons spesialis belastingdiens.

Ons het ook ‘n EstateStatus program ontwikkel waarvolgens ‘n oorledene se naasbestaandes die vordering met die beredderingsproses kan monitor. Hierdie funksionaliteit is uniek in die bedryf. Naasbestaandes kan die proses monitor deur as ‘n gebruiker op die webblad te registreer.